GEDRAGSKODE DEUR DIE LEERDER ONDERSKRYF
Ek, die leerder, besef dat onderlinge
samewerking tussen myself en die ander persone
wat by my opvoeding en onderwys betrokke is,
alleenlik suksesvol kan wees as alle partye
ooreenkom oor die nastrewing van waardes en
beginsels. Die waardes wat deur my nagestreef
word, word vergestalt in die erekode hieronder
uiteengesit:
1.1 Menseregte
Terwyl ek daarvan bewus is dat ek oor
sekere regte beskik in terme van die Grondwet,
erken ek dat ander mense soortgelyke regte het
en respekteer ek hierdie regte. Ek erken veral
die menswardigheid en gelykheid van alle mense
en onderneem om my regte so uit te oefen dat
ander mense nie deur my optrede benadeel word
nie.
1.2 Respek vir my onderwysers
Ek respekteer onderwysers as my opvoeders
en beloof my heelhartige samewerking in alle
redelike opdragte wat ek van opvoeders mag
ontvang. Ek respekteer die opvoeders as
volwassenes en erken dat hul opleiding en
ervaring my tot voordeel kan strek. Daarom
onderneem ek om my volle samewerking aan
opvoeders te gee en altyd hoflik teenoor hulle
op te tree.
1.3 Respek vir
nie-onderwyspersoneel en besoekers
Die bydraes tot die gladde verloop van
die skoolorganisasie deur administratiewe
personeel en terreinwerkers word hoog
aangeslaan, daarom sal ek teenoor hierdie
personeel met agting en respek optree. Besoekers
aan die skool, soos
Distrik-Onderwyskoördineerders, besigheidsmense
en ouers, dra ons skool se welsyn op die hart en
sal met respek en met hoflikheid bygestaan word
waar nodig.
Die volgende wette en regulasies dien as
basis waarop die gedragskode gebasseer is:
Suid-Afrikaanse Skolewet, 84 van 1996.
Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 108
van 1996.
Gauteng Skolewet.
Algemene
kennisgewing 937 van 1998, GDO.
1.4 Respek vir die omgewing en
skoolfasiliteite
Die natuurlike omgewing is ‘n geskenk van
God en ek aanvaar die opdrag en gesamentlike
verantwoordelikheid vir die bewaring daarvan. Ek
waardeer die skoolgeboue, klaskamerinhoude en
ander fisiese geriewe wat vir my gebruik
beskikbaar gestel is. Ek onderneem om op ‘n
verantwoordelike wyse daarvan gebruik te maak en
vir sover dit binne my vermoë is, ‘n bydrae tot
die instandhouding daarvan te lewer, insluitend
om my ouers aan te moedig om skoolgeld te betaal
en aktiwiteite te ondersteun ter uitbreiding van
die fisiese fasiliteite.
1.5 Voorkoms
Uniforme skooldrag dra by tot eenheid van
sin en strewe. Die skoolwapen versinnebeeld die
gesamentlike strewe van leerders, ouers en
personeel. Omdat die skooluniform en
gepaardgaande voorkomsreëls tradisionele waardes
van die skool en gemeenskap verteenwoordig, sal
ek die skooldrag met trots dra en die
voorskrifte van persoonlike voorkoms wat die
skooldrag komplimenteer, nakom.
1.6 Veiligheid
Ter wille van my eie veiligheid sal ek
gebruiksvoorskrifte vir laboratoriums nakom en
klaskamerreëls wat op leerderveiligheid gemik
is, eerbiedig. Tydens klaswisseling, op die
skoolterrein, met uitstappies en op die
sportveld sal ek poog om deur my optrede nie my
eie of ander persone se veiligheid in gevaar te
stel nie.
2. REëLS
Reëls het ten doel om:
• ‘n positiewe leeromgewing te skep en
instand te hou
• aanvaarbare gedrag sowel as
onaanvaarbare gedrag uit te spel
•
opvoedkundige doelwitte te bevorder.
Reëls wat aanbaarbare gedrag uitspel
2.1 Skoolbywoning
• Leerder woon die skool gereeld en
getrou by.
• Na afwesigheid moet die ouers
die skool van die rede voorsien, of ‘n mediese
sertifikaat ingehandig word.
2.2 Daaglikse program
• Die skool begin om 07:30 vir alle
leerders en verdaag as volg: Gr.1, 2 en 3 om
13:00. Die res van die skool verdaag om 13:30.
Op Vrydae verdaag almal om 13:00.
• Wisseling
tussen periodes en met pouses vinnig en ordelik.
• Tydens onderrig is leerders in ‘n
onderrigsituasie betrokke.
2.3 Algemene optrede
• Geen bakleiery, afknouery, intimidasie
of afdreiging mag plaasvind nie.
• Geen
onwelvoeglike taal of gedrag word toegelaat nie.
• Geen ruiltransaksies by die skool word
toegelaat nie. (Behalwe entrepreneurs by tafels
tydens entrepreneursdae).
2.4 Voorkoms
• Leerders moet netjies, skoon en
higiënies wees.
• Skooldrag is verpligtend.
• Geen juwele word gedra nie (een goue of silwer
oorkrabbertjie per oor en een seëlring vir
dogters uitgesluit).
• Hare word gesny en
gekam in ‘n styl soos deur skool aanvaar word.
Geen gekleurde hare of “undercut” nie.
•
Dogters: Slegs groen, blou of wit
haarversiersels. Knippies: silwer of goud.
2.5 In die klaskamer
• Alle opdragte van die onderwyser moet
noukeurig uitgevoer word.
• Die voorgeskrewe
skryfbehoeftes en ander media moet beskikbaar
wees.
• Netheid en getrouheid in afhandeling
van take is ‘n vereiste.
• Aanvaarbare
houding en gedrag teenoor onderwysers en
mede-leerders is ‘n vereiste.
• Geen
vandalisme mag plaasvind nie.
•
Onderriglokaal mag slegs verlaat word met
toestemming van die onderwyser.
2.6 Verlating van terrein
gedurende skoolure
Niemand mag die terrein sonder verlof van
die kantoor gedurende skoolure verlaat nie.
‘n Leerder wat die terrein gedurende skoolure
verlaat moet ‘n brief van sy ouers by die
kantoor inhandig waarin ‘n rede vir die versoek
verstrek word. Die ouers moet die leerders by
die algemene kantoor afhaal.
2.7 Besering of siekte tydens
skoolure
Enige besering of siekte moet by die
kantoor gerapporteer word.
Die skool sal
eerste-/noodhulp verleen.
Die ouers sal
gekontak word en hulle sal versorging oorneem.
Indien ouers nie gekontak kan word nie sal die
skool professionele mediese hulp reël.
Hierdie rekening is vir die ouers.
3. STRAFSTELSEL
Aangesien ons by Noordskool poog om elke
leerder tot sy volle potensiaal te ontwikkel, is
dit dus ook belangrik dat elke Norie hom/haar
onderwerp aan L/S Krugersdorp-Noord se
strafstelsel.
Indien daar onduidelikheid in verband met
bogenoemde stelsel is, gee ons aan u die
volgende deur:
- Elke klas besit sy eie strafboek met
elke leerder se naam en ouers se
kontakbesonderhede.
- Tydens klaswisseling
neem klasleier lêer na verskeie personeel.
(Juniors behou lêer by klasonderwyser).
-
Wanneer ‘n leerder ‘n oortreding begaan word die
datum en die leerarea waar die oortreding begaan
is by sy/haar naam aangebring.
- Na drie
oortredings word die brief huistoe gestuur vir
ondertekening van ouers/voog.
- Indien daar
drie handtekeninge is (dieselfde oortreding)
word u as ouer gekontak. Die leerder word deur
die dagbestuur van die skool aangespreek en dit
word aangeteken.
- Indien daar weer drie
handtekeninge is, dit wil sê, nege oortredings
van dieselfde soort, sal die leerder nou verplig
word om ‘n detensieklas, op die daaropvolgende
Vrydag, waarna u ‘n brief ontvang het, by te
woon. Géén verskonings kan aanvaar word nie.
- Ernstiger oortredings bv. rook, diefstal en
aanranding sal onmiddellik na die beheerliggaam
verwys word.
Aangesien elke leerder geborge voel
wanneer hy/sy met reëls saamleef en hy/sy dan
alleenlik sy volle potensiaal kan bereik,
versoek ons u as ouer of voog se samewerking in
hierdie verband, aangesien u as ouergemeenskap
en ons as onderwysers saam ‘n verskil kan maak
in ‘n kind se toekoms!

